August 21, 2019

Vrouwees in die besigheidswêreld hou heelwat voordele in. As gevolg van ons natuurlike neiging om informasie te versamel en op te let waar ons gaan, is vroue baie goed met netwerk en bou maklik konneksies. Vroue het ook natuurlike vaardighede om goed te onderhandel, te delegeer en te multitask.

Wanneer dit egter kom by loopbaan balanseer met ma-wees, tip die skaal vir menigte vroue in een of meer van bogenoemde. Skielik is jou beste delegeer en multitaskvernuf nie meer goed genoeg nie en die lyn word grys tussen dit wat nodig is en dit wat kan wag. Ons prioriteite word deurmekaar en klomp balle beland op die vloer.

Ek is deur baie vroue entrepreneurs omring in my omgewing en keer op keer sal ons gesprekke in die rigting van ‘ek is te besig’, ‘ek sukkel om by alles uit te kom’ en ‘waar gaan die tyd?’ beweeg. Ek sien en ervaar hoe almal oorweldig is deur die aanvraag van verantwoordelikhede. En tipies vrou, sal ons eerste instink wees om onsself te blameer en soos ‘n mislukking te voel.

God het vir die laaste paar jaar ‘n passie vir vroue in besigheid diep in my hart gesit en ek het ‘n absolute verwondering vir die krag, determinasie en bekwaamheid binne elke vrou. Al soveel keer in my lewe kon ek getuig van ‘n merkwaardige vrou wat in die midde van haglike omstandighede opgestaan het, of uit absoluut niks iets suksesvol gebou het. En ek glo dat dítjuis die rede is waarom ons so aangeval word en satan so hard veg om vroue in hulself te laat twyfel.

Want wanneer ons opstaan….

So hoe nou gemaak? Hoe hou ons al die balle in die lug? Een van die (menigte) talente wat ons vroue mee geseënd is, is om besonders goed te kan onthou (tot die frustrasie van meeste mans). So tydens my gesprekke oor hierdie onderwerp met my entrepreneurs vriendinne, het ek waardevolle informasie en wenke bymekaar gemaak wat ek graag wil deel.

Laat gaan die skuldgevoelens.

In plaas van sit en skuldig voel oor die kere wat jy nie daar kon wees vir jou kind of waarop jy dalk uitmis nie, dink eerder aan die positiewe impak wat jou loopbaan op jou familie maak. Daar is ook belangrike lewenslesse wat jou kinders leer deur te sien hoe hul ma toegewyd is en hard werk.

Oppas vir dinge wat kosbare tyd steel soos sosiale media en TV.

Hierdie is ‘n slaggat wat baie van ons maklik in trap. Dit is lekker om net terug te sit en ons koppe af te skakel terwyl ons eentonig blaai deur sosiale media kanale en ons breine net verder vol stop met onnodige en onbelangrike informasie. Op hierdie manier word ons kosbare aandag aan ander families en hul kinders gegee, terwyl ons eie agterweë bly. Maak spesifieke riglyne om hierdie tipe ’afskakel’ te doen wanneer dit nie tyd steel by jou eie familie.

Spandeer kwaliteit tyd en wees teenwoordig.

Ons besighede en loopbane neem baie van ons kwantiteit tyd en juis daarom moet ons probeer meer kwaliteit tyd insit wanneer dit kom by jou gesin. Wees teenwoordigas jul tyd saam spandeer. Fokus spesifiek op jou man of kind wat saam met jou is, luisteren werk aan die emosionele konneksies. Dan is minder tyd saam okay. Want die tyd het getel.

Beplan vooruit en organiseer.

Om ‘n bietjie ekstra tyd te spandeer aan vooruit beplanning, spaar weer kosbare tyd vorentoe. Werk streng (maar buigbare) skedules uit en beplan vooraf die week se etes, kinder aktiwiteite, skooltake en alleen-tyd met jou man. Wanneer onvoorsiene situasie opduik en die skedule moet effe aangepas word, is dit net soveel makliker as daar wel duidelike riglyne was om mee te begin.

Gee aandag aan selfversorging.

Wanneer vroue te besig raak is dit soms die maklikste om eerder tyd op te offer wat ons aan onsself sou spandeer as om iets op die te doen lysie te mis. Dit is egter ‘n feit soos ‘n koei dat ‘n vrou wat mooi en goed versorg voel, net soveel meer produktief is, met meer selfvertroue en moed om groter take aan te pak. Maak tyd vir alleen wees. Maak tyd vir bietjie grimeer. Gaan haarsalon toe en werk nou en dan iewers ‘n lekker bederf by die spa in. En baie belangrik – spandeer tyd met jou vriendinne wat jou opbou en gevul laat wegstap. Dan raak die angswekkende te doen lysie minder bedreigend en sommer baie meer doenbaar.

En dan is daar twee laast wenke wat ek mee wil afsluit. Hierdie deel ek heeltemal uit eie ondervinding en is in my lewe essensieël – iets waarsonder ek verseker nie ‘n besigheid en familie kan bestuur nie.

Leer jou kinders dissipline en om onafhanklik te wees.

Dit is altyd vir my opvallend hoe baie tyd ‘n kind kan steel wat nie gedissiplineerd is nie. ‘n Ma (of pa) se aandag word aanhoudend afgetrek, of moet ek liewer sê “op aangedring”, wanneer die kind nie sy of haar sin kan kry nie. Dissipline kartel die balans na die regte kant. Dus besluit mamma of pappa die agenda vir die dag en nie die 5 jarige nie. Dit is die ouers wat dan besluit wanneer is dit “genoeg” en moet daar ‘n lyn getrek word en nie die 7 jarige wat maar sy of haar sin kry om die vrede te bewaar nie.

Kinders wat dissipline en duidelike grense het, werk saam, help graag en maak dat familie tyd saam van goeie kwaliteit is. As hulle oud genoeg is vir sekere take, laat hulle dit self doen. Om dissiplinering te kan hanteer en onafhanklik te raak is eienskappe by kinders wat nie net die hele familie bevoordeel nie, maar ook uiters belangrike lewensvaardighede is vir hul toekoms.

Kry jou krag (en antwoorde en idees en insprasie) by God.

Die belangrikste advies het ek vir laaste gelos.

Een van my gunsteling gesegdes is die volgende van Martin Luther: “Ek het so baie om te doen vandag, ek moet ten minste die eerste 3 ure in gebed spandeer”. Prakties is dit natuurlik meestal ‘n onmoontlike taak, maar wat my altyd tref hiervan is die totale afhanklikheid van God wat Luther hier uitbeeld. Ek vind self dat ek baie keer op my besigste dae heel eerste my tyd met God afskeep (altyd met die gedagte dat ek wel later gaan opmaak daarvoor, wat soveel keer dan nooit gebeur nie).

As ek werklik gaan diep dink hieroor, kan ek nie help om net my kop te skud oor die ironie hiervan nie. God sê juis vir ons “Laat jou weë aan My oor en Ek sal jou paaie gelyk maak”. As vroue, ma’s, werknemers, besigheidseienaars of vriendinne is ons tog pal besig om iewers ‘n pad vir iemand te probeer gelyk maak. Nou wonder ek waarom sal ons dan dit self wil doen as God, die Skepper van die hemel en aarde, vir ons sê HY sal dit VIR ons doen?

So vat al die bogenoemde wenke en skuif dit agter hierdie een in. Want wanneer God jou pad gelyk maak en Sy planne vir jou begin uitspeel, gaan elke dingetjie in plek val. God het ‘n besonderse hart en eerbied vir ‘n vrou, die Woord getuig oor en oor daarvan. Begin jou dag, jou projekte, jou voornemens, jou doelwitte met Hom.

En jou paaie sal gelyk, gebalanseerd en gevul met vrede wees.


Leave a comment

Comments will be approved before showing up.