July 25, 2019

Wanneer jy in Nicky se geselskap is, kan jy nie haar warmte, liefdevolle hart en sprankelende persoonlikheid miskyk nie. Sy is ‘n pragtige vrou, wat ook ‘n sterk, innerlike skoonheid uitstraal. Krap bietjie dieper en jy ontdek gou die Bron van haar krag. En dan is daar die reis wat haar gevorm het in die Warrior Vrou wat sy vandag is wat vir talle vroue ‘n anker en steunpilaar is…

Nicky Lonte is die ontwikkelaar en eienares van Niki Professional Makeup. Twaalf jaar gelede het sy haar besigheid as grimeerkunstenaar begin en op daardie stadium was haar hoof fokus bruide en grimeerlesse. Gedurende haar loopbaan en ondervinding in die industrie het sy die behoefte aan ‘n professionele gimeerreeks geindentifiseer wat toeganklik is vir die gewone vrou asook wat deur salonne aangehou kan word. So het Niki Professional Makeup ontstaan en haar fokus het geskuif na grootliks om vroue te leer watter kleure en tegnieke die beste by hulle pas.



Twee jaar gelede het haar wêreld egter omgekeer toe sy skielik gediagnoseer word met borskanker. Sy moes leer om met sekere van die newe-effekte van die medikasie mee saam te leef en het besef dat daar soveel ander vroue is met dieselfde worsteling en uitdagings a.g.v. kanker. Nicky het duidelik ervaar dat God graag hierdie vroue weer hul selfvertroue wil teruggee en dat sy gebruik kan word daarvoor deur hulle te leer hoe om hul grimering te doen en mooi te voel, ten spyte van enige fisiese terugslae soos haarverlies, gewigstoename ens. Só is haar Warrior Women Makeup Workshops gebore en het haar studio ‘n hawe geword waar sy talle vroue weer bemagtig met nuwe selfvertroue, moed en die geleentheid om saam met ander vroue in dieselfde bootjie te kuier, hul stories te vertel en mekaar ondersteun.

Behalwe vir haar Warrior Werkswinkels bied Nicky ook gewone werkswinkels aan waar sy groepe vroue leer watter kleure en tegnieke die beste by hulle sal pas en hulle opvoed oor die regte produkte. Haar professionele grimering word uit haar eie tuis salon asook ‘n paar uitgesoekte salonne verkoop en dan doen sy ook gereeld professionele grimering vir kliënte.

Sy is ‘n uitgesorteerde, professionele entrepreneur wat weet wat sy wil hê en hoe sy ‘n ding wil doen. Wanneer sy gesels oor haar inspirasie as jong meisie, vertel sy graag van hoe sy haar ma dopgehou het terwyl sy grimering aansit en verstom was oor hoe jy met grimering ‘n gesig kan transformeer. Tot vandag bly een van haar grootste lekkertes as haar kliënte komplimente ontvang van hoe mooi hul grimering lyk en om te sien hoe dit hul selfvertroue ‘n hupstoot gee.

Haar wenke vir vroue entrepreneurs is wys en eenvoudig. “Die belangrikste ding is om 100% in jou eie produk te glo en ’n passie daarvoor te hê. As jy nie so voel daaroor nie, gaan niemand anders so voel nie. Sodoende sal jou werk ’n plesier vir jou wees… en die finansies sal outomaties volg,” verduidelik sy. Sy glo om dinge eenvoudig te hou met lae oorhoofse kostes en by te voeg soos die besigheid groei. Nicky beskou goeie raad van boekhouers en prokureurs as noodsaaklik met die begin van enige besigheid en het uit eie ondervinding geleer dit sal onnodige kostes spaar.

Nicky is nie net ‘n suksesvolle besigheidsvrou nie, maar ook ‘n toegewyde vrou vir haar man, Kobus, en ma vir haar drie seuns. “Om jou eie besigheid te hê en ook ’n ma te wees, kan baie uitdagend wees, want jy is 100% besigheidsvrou en ook 100% ma”. Sy glo egter steeds dit is ‘n wonderlike voorreg om jou eie tyd te kan bepaal, maar dat die grootste uitdaging is om in die oomblik te wees. “Dit is iets wat ek nog elke dag probeer bemeester. Om wanneer ek moet fokus op my kinders, die foon en e-mails uit te los. Of om te leer dat ek nie onmiddellik ’n kliënt hoef te antwoord as my familie my nodig het nie.Familie en vriende is die glas balle wat ons in die lug hou en ons beroepe die rubber balle. Sorg dat jy die glas balle wat kan breek koester, want die rubber balle sal altyd terug bons”.

Volg gerus vir Nicky op haar Sosiale Media of kontak haar vir ‘n werkswinkel:
Facebook|Instagram|Niki Professional |nicky_lonte@vodamail.co.za | 083 264 6717


Leave a comment

Comments will be approved before showing up.