September 30, 2019

Deur Melanie van Wyk van What Works

Melanie van Wyk is ‘n besigheids-eienaar, ervare entrepreneur, vrou & tuisskool ma... Met haar vaardige formules en riglyne verander sy menige entrepreneurs se uitkyk op besigheid en help om sake vlot te laat verloop, strategië in plek te sit en hul omset te vergroot.

‘Tydens my jare se ondervinding in die gasvryheidsbedryf het ek ‘n belangrike ontdekking oor myself gemaak: ek is in my element wanneer inkomste en uitgawes eindig in ’n plus en om dit elke keer te bereik is wat my aanspoor, ongeag of dit my deel of die volgende persoon s’n is.

Nadat ek ag jaar ondervinding as entrepreneur opgedoen het en tot hierdie gevolgtrekking gekom het, het ek twee van my passies gekombineer: ek wil graag mense help en ek is mal daaroor om dinge te organiseer. Dus bestee ek tans my tyd daaraan om ander te help om hul besighede optimaal te bedryf.

Ek begryp maar al te goed die bloed, sweet en trane wat gepaard gaan met die proses om jou idee te laat werk.Ek weet ook daar is altyd ‘n wonderlike, kleurvolle storie agter elke klein besigheid se reis tot waar hul vandag is. Menige kere is die entrepreneur reeds 80% daar en is dit net ’n klein verandering wat gemaak moet word om finaal te floreer.

As jy ‘n droom in jou hart het om jou eie besigheid te begin, weet die volgende: dit is nie vir die swak van hart nie. Dit is harde werk en soms voel dit soos ’n verlore saak. Ek het al ‘n paar keer dit oorweeg om maar net terug te gaan na die werkplek en’n vaste inkomste te verdien. Dan besef ek weer dat die tyd, moeite en druk om dit te maak werk vêr oorskadu word deur die beloning van jou eie werksvloei ontwerp volgens wat vir jou en jou gesin werk. 

So kan ons dit alles hê: werk en familie, asook vriende en vrye tyd!

My advies kom nie uit ‘n plek van ek-het-alles-agter-mekaar nie, maar eerder uit harde (en soet) ondervinding. Dit is my dag tot dag ervaring wat my gehelp het om ’n tipe handleiding bymekaar te sit wat ek vir klein besighede offer. Dit is beginsels wat werk en waarin ek rotsvas glo.

In die hotel bedryf werk ons met ‘n prinsiep wat ek graag noem ’emergency avoidance’ en dit is ‘n wonderlike beginsel om in enige besigheid toe te pas. Elke dag is die bekendstelling van ’n nuwe produk en dan moet daar gebruik gemaak word van die gas/kliënt se ondervinding om jou produk of diens te verfyn om sodoende enige herhalende probleme te voorkom.

Wanneer jy weet wat oppad is, is dit maklier om aan te pas of voor te berei daarvoor.

Ek gee graag ‘n illustrasie uit my eie lewe, net om ‘n prentjie te skep van wat moontlik is vir ’n entrepreneur wanneer jy bereid is om die moeite in te sit...

Sommige dae begin my dag reeds 5 uur die oggend en teen 11 uur is ek steeds in my japon. As ‘n werkende ma is die motor meer as gereeld my kantoorspasie en menigte tye is ek besig om my kinders skool te gee terwyl ek terselfde tyd ook my personeel en hul take delegeer.

Ek het al heelwat foute gemaak en ’n paar van my besighede het eers na die eerste 4 jaar begin wins toon, maar dit bly ons s’n en saam met dit kom vryheid.

Graag sluit ek af met die volgende paar sleutel wenke:

Eerlikheid. Dit is soms baie moeilik om eerlik met jouself te wees. Veral oor die foute wat jy gemaak het, jou swakker punte en waar jy dinge moeiliker maak vir jouself. Forseer jouself om hierdie realiteite eerlik in die oë te staar. En as dit vir jou te moeilik is om ’n opjektiewe perspektief te kry en die probleem areas te identifiseer, vra iemand wat jy vertrou om na jou besigheid te kyk en vir jou eerlike terugvoering te gee.

Nooit klaar. Moet nooit dink jy gaan eendag die toppunt van sukses bereik en nooit weer hard werk nie. Elke nuwe idee, produk of diens wat jy wil aanpak, verg presies dieselfde strategie, energie en administrasie as om ‘n nuwe besigheid te begin. Entrepreneurskap is ’n siklus... Soms mal besig, ander kere bietjie rustiger. Maar daar is altyd iets om te doen.

Wees vindingryk. Maak gebruik van hulpbronne waar moontlik en neem advies van kenners. Ons woon in ‘n area met wonderlike klein besighede - maak gebruik van hulle en spaar só groot uitgawes wat ‘n voltydse hulpbron jou sou kos.

Integriteit. Doen wat jy gesê het, wanneer jy gesê het. Besighede groei op ’n vertrouensverhouding. Bou eerder ekstra tyd in wanneer jy kwoteer en verras die kliënt as om teleur te stel.’


Leave a comment

Comments will be approved before showing up.