Melanie van What Works: Hoekom Haar Opinie Saak Maak

Bekwaam. Skerp. Raakvatter. Innoverend.

Hierdie woorde spring na vore sodra Melanie se naam genoem word. Spandeer net ‘n kort rukkie in haar geselskap en jy sal wegstap met ‘n paar blink idees, gemotiveerd om iets nuuts aan te pak. En met ‘n glimlag op jou gesig. Haar ambisie en entoesiasme word kleurvol versier met ‘n skerp humorsin wat so ingeweef is in haar persoonlikheid, jy kan dit nie mis nie.

Melanie het haar B.Com. Hotel en Toerismebestuur Graad by Tukkies verwerf in 1999 en het daarna jare lank haar kennis en ondervinding opgebou in die gasvryheid industrie. Dit was by Spier Hotel in Stellenbosch waar sy haar laaste bestuurspos vervul het en, met die aanmoediging van haar bestuurder, die stap geneem het om haar eie besigheid te begin. Haar entrepreneurs-gees was ook in hierdie tyd aangevuur toe sy pas uitgevind het sy verwag haar 3de kind in vier jaar… Nie ideale omstandighede vir die korporatiewe omgewing met lang en streng werksure nie. Om dus op haar eie bene te begin staan was net die logiese volgende stap.

melpic1.jpg

So het Maze Consulting ontstaan, ‘n maatskappy wat die gasvryheidsindustrie konsulteer ten opsigte van operationele prosedures, opleiding, ontwikkeling, personeel werwing ens. Maar Maze was slegs een van vele besighede wat Melanie op die been gebring het. Saam met haar man, Chris, het hulle ook BQ Systems (sagteware ontwikkelings maatskappy), QUBE (verskaf B-BBEE oplossings vir organisasies) en Oasis (‘n nie-winsgewende organisasie wat sosio-ekonomiese omstandighede van voorheen benadeelde Suid-Afrikaners bevorder) gestig.

Met haar ondervinding in die sake-wêreld en uiteenlopende blootstelling in verskillende industrieë, het Melanie ‘n flymskerp oog ontwikkel wat ‘n gaping in die mark gou kan raaksien en kan sy, sonder veel inspanning, maklik verskeie moontlikhede vorendag bring om die potensiaal te ontgin.

Haar insig in die besigheidswêreld en innoverende idees het vinnig ‘n integrale rol begin speel in al die kringe waar sy beweeg, of dit nou in besigheid of persoonlike omgewing tussen vriende en familie is.

As entrepreneur en ma van 3, glo Melanie vas in die regte struktuur van besigheid. Die belangrikheid van orde, administrasie en riglyne om besigheid vlot te laat verloop. “Hoe meer aandag aan effektiewe administrasie gegee word (juis dit wat baie mense nooit voor tyd het nie), hoe meer tyd sal almal hê vir dit wat vir hulle belangrik is en die res in plek val,” is haar ervare opinie.

melpic2.jpg

Tyd is ‘n kosbare kommoditeit en wanneer balans tussen besigheid en persoonlike tyd gevind moet word, word slim maniere en hulpbronne wat die taak kan makliker maak van onskatbare waarde geag. Dit is dan hoe What Works ontstaan het, Melanie se platvorm wat sy gebruik om waardevolle wenke vir die daaglikse lewe te deel en produkte, toeps en dienste te evalueer.

Waar sy mense kan help om geld en tyd te spaar, daar is sy in haar element. “Ek is nie bang om iets nuuts te probeer en enige iemand se proefkonyn te wees vir hul eerste ’sale’ nie. Ek is passievol oor klein besighede en wil graag hê entrepreneurs moet sukses hê met hul idees, so as ek d.m.v. my opinie kan help om die woord te versprei en dalk ander se lewens te help vergemaklik, bereik ek my doel.”

Vir nuwe entrepreneurs is haar raad: “Wees geduldig! Daar is bitter min besighede wat ‘n oornag sukses is. Wees reg om ‘n paar keer in jouself te twyfel, en druk deur! Daar is altyd iets wat jy kan verander om ‘n ding beter te laat verkoop. Kry jou administrasie agter mekaar – daar is baie kompetisie daar buite en jy moet dit eenvoudig en maklik maak vir mense om met jou besigheid te doen.”

Annelize Blom